Ek was die afgelope week op 'n uitreik in Mosambiek en het moeilike, lang paaie trotseer, maar dit was alles die moeite werd! Wanneer jy in Afrika is en met mense in aanraking kom, daar in hul eenvoudige lewensomstandighede, besef jy net weer dat jou 'moeilike' omstandighede eintlik niks is nie...
Ons het gereis na Mapai, 'n klein spoordorpie in die Gaza Provinsie van Mosambiek. Ons het deur die Pafuri Grenspos tussen die Nasionale Krugerwildtuin en die Nasionale Limpopo Park (Mosambiek) gery. In Mosambiek voel dit egter nie asof jy in 'n wildtuin ry nie, aangesien die strook langs die Limpoporivier redelik dig bewoon is.
Orals op ons reis het ons in aanraking met die mense van Afrika gekom, en watter vriendelike mense is hul nie! Altyd bereid om jou met 'n glimlag te groet, maak nie saak hoe warm en stowwerig dit is nie. Vir hierdie mense gaan die lewe nie oor selfverryking nie, maar eerder oor daaglikse oorlewing. Ek kon nie help om te wonder of ek 'n week in hulle omstandighede sou oorleef nie. Klein kleigehuggies is hulle wonings, en water sekerlik die waardevolste natuurbron in die omgewing. Ten spyte van die feit dat hulle elke dag sukkel om te oorleef, straal daar nogsteeds lewensvreugde uit hul gesigte - 'n vreugde wat jou aansteek en met 'n glimlag op jou gesig laat...
Dit maak my weer opnuut opgewonde oor die verskillende mense wat ons volgende jaar gaan raakloop en die omstandighede waarmee hulle elke dag moet leef!